Hesc Releases Two Orphaned Rhinos Back Into The Wild After Five-Years Of Rehabilitation

Persverklaring

Die bewaring en rehabilitasie van renosters is ekonomies noodsaaklik

Twee renosters wat vyf jaar gelede as gevolg van stroping wees gelaat is, is deur die Hoedspruit Endangered Species Centre (HESC) vrygelaat nadat hulle deur die Sentrum gered en gerehabiliteer is. Gertjie en Matimba is hand-grootgemaak en versorg deur ‘n groep toegewyde persone wat daarop uit is om die renosterspesies te red.

Op 25 Junie 2019 is die hekke van die renosters se kamp oopgemaak en vir die eerste keer in die geskiedenis van HESC het twee wees -renosters na vryheid in die natuur beweeg. Hulle is sedertdien gesien in die reservaat waar hulle vrygelaat is en loop steeds saam soos twee broers soos wat hulle al die jare by HESC gedoen het. Hulle word beskerm deur ’n ervare teenstropingseenheid met die nuutste tegnologie en elektriese omheining om die reservaat. Hulle is die toonbeeld van suksesvolle wildbestuur en die herstel van die skade wat deur die wrede en onmenslike handel in renosterhoring berokken word.

“Om so renosterwesies te sien wat vrygelaat word, is werklik iets besonders. Dit is oomblikke in bewaring wat vasgevang en bewaar moet word vir die toekoms van die mensdom,” sê Tanya dos Santos, Hoof: Groep Volhoubaarheid by Investec.

Hoekom is dit so belangrik om ’n renoster te red wat stroping oorleef het? Is die tyd, moeite en reuse onkoste geregverdig? Ja – want vir die voortbestaan van die spesies tel elke renoster. Renosters is ’n sleutelsteen spesies en die uitsterf daarvan kan ’n reuse uitwerking op die hele ekosisteem ten gevolg hê. Renosters wat wei, dra by tot die instandhouding van savanne graslande wat weer ander spesies onderhou. Hierbenewens, indien die Groot 5 die Groot 4 sou word, gaan dit ’n baie negatiewe uitwerking op toerisme hê, asook op werkskepping en die voortbestaan van ondernemings in baie landelike gebiede.

Reis en toerisme in Suid Afrika het in 2017 bygedra tot die skepping van 722 000 werksgeleenthede en R130 biljoen vir die land se ekonomie, wat om en by 3% verteenwoordig van die totale landsekonomie. In hul 2018 data* het StatsSA rapporteer “een uit elke 22 werkende Suid-Afrikaners werk in die toerismesektor.” Om ons wilds-ekonomie te beskerm, behels veel meer as net die bewaring van ons erfenis, dit is ekonomies noodsaaklik.

Volgens die South African National Biodiversity Institute (SANBI)** is Suid-Afrika die derde grootste biologies-diverse land in die wêreld, na Indonesië en Brasilië. Die verlies van ons ikoniese biodiversiteit en die renosterspesies sal ’n dramatiese impak hê op ons ekonomie deur ‘n afname in beleggings- en werksgeleenthede.

In die afgelope tien jaar het Suid-Afrika meer as 25% van die wêreld se renosterbevolking verloor en verloor steeds meer as twee renosters per dag. Teen dié koers sal daar oor twintig jaar geen renosters in die natuur oor wees nie. Sowat 80% van internasionale besoekers aan Suid-Afrika kom vir ons wildslewe en een uit elke sewe Suid-Afrikaners is van toerisme afhanklik om te oorleef.

Investec Rhino Lifeline het sy fokus sedert sy onstaan in 2012 verander na twee sleutelgebiede, naamlik jeugonderwys en renosterredding. Laasgenoemde is onontbeerlik vir die voortbestaan van hierdie spesie. Daarbenewens het Investec onlangs aangesluit by 2 die United for Wildlife Financial Taskforce wat die onwettige handel in wild bestry. Investec is verbind tot die beskerming van die diere, volhoubare werksgeleenthede, gemeenskapsopheffing in Suid-Afrika, en die bestryding van finansiële misdaad en onwettige handel in wild.

Dos Santos sê: “Ons besef dat die skep van ’n meer inklusiewe wildslewe toerismeekonomie Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne sal bewaar en plaaslike gemeenskappe ophef. Ingevolge ons bewaringstrategie befonds ons verskeie biodiversiteitsprojekte wat plaaslike gemeenskappe in hoë toerisme-gebiede by die waardeketting insluit deur opvoeding, opleiding en werksgeleenthede aan hulle te bied.”

Met asemrowende natuurlike hulpbronne, die Groot 5 en uitmuntende biodiversiteit is daar beslis geleentheid om plaaslike gemeenskappe op te hef. Wat benodig word, is vennootskappe wat verseker dat gemeenskappe aktief deelneem deur te fokus op die sleutelgebiede van opvoeding, vaardigheidsontwikkeling, werksgeleenthede en infrastruktuurontwikkeling. As dit gedoen kan word, sal toerisme bly floreer en een van die drywers van die Suid-Afrikaanse ekonomie wees.

Einde

Notas aan die redakteur:

Bronne:

* http://www.statssa.gov.za/?p=11862 en http://www.statssa.gov.za/?p=11800

** https://www.sanbi.org/about/about-sanbi/

***https://tourismconservationfund.org/about-us/#how

Vir meer inligting: Ilse Schürmann (HESC Bemarkings- & Kommunikasiebstuurder – 082 851 7157)